Motorfietsdief in hospitaal na arrestasie

‘n Vermeende motorfietsdief het gisteraand (30 Augustus) omstreeks 19:30 ‘n skietwond opgedoen terwyl hy met ‘n polisiebeampte wat hom in hegtenis wou neem baklei het.

Volgens Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die polisie ‘n verdagte voertuig op die N12 in die rigting van Johannesburg afgetrek waarna dit deur polisiebeamptes deursoek is. Daar was twee insittendes binne die Quantum wat afgetrek was.

“‘n Motorfiets is binne in die voertuig gevind. Die beamptes kon bevestig dat beide die motorfiets en die Quantum as gesteel aangemeld is,” het Chaka gesê.

Volgens hom het een van die verdagtes begin vlug maar die ander het met ‘n beampte begin baklei.

“Tydens die gestoeiery het die beampte se vuurwapen afgegaan. Dit het die verdagte in die been getref,” het Chaka gesê.

Die verdagte is hospitaal toe geneem vir verdere behandeling. Volgens Chaka word twee sake van die besit van vermoedelike gesteelde goedere sowel as ‘n saak van aanranding ondersoek.

Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier beskerming, is drie motorfietse deur die loop van gisteraand (30 Augustus) op ‘n kleinhoewe in Mooivalleipark gesteel.

Chaka kon nie bevestig of die motorfiets wat deur die polisie terug gekry is een van dié gesteelde motorfietse is nie.