- info@mbpotch.co.za


Die meeste mense het ‘n plan om ‘n inbraak te voorkom. Diefwering. ‘n Alarm. ‘n Hond. Baie min mense het ‘n plan vir die oomblik wanneer die alarm régtig afgaan.
Ons weet, want ons sien dit gereeld.


Iemand staan op, vat die krieketkolf en gaan kyk self.
Ons verstaan hoekom. Dit voel of dit die regte ding is om te doen. Maar dink net ‘n oomblik daaroor na: as daar wel iemand in jou huis is, is daardie persoon net so verras soos jy. ‘n Indringer wat in ‘n donker gang onkant betrap word, is op sy gevaarlikste. Jy wil hom nie daar teëkom nie.
Nege uit tien keer is dit ‘n kat, die wind, of ‘n venster wat oopgewaai het. Maar jy weet nie vooraf of joune die tiende keer is nie.

Bly waar jy is. Jou slaapkamer is jou veiligste plek: jy ken dit, die deur kan sluit, en jy hoef nêrens anders heen nie.
Kry almal bymekaar. As jou kinders klein is, moet hulle lankal weet: as die alarm afgaan, kom hulle na jou kamer toe. Nie gang toe nie. Nie kombuis toe nie. Dis ‘n gesprek van vyf minute om die etenstafel, en dit maak ‘n wêreld se verskil.
En hou jou foon en paniekknoppie langs jou bed, nie op die laaier in die kombuis nie.

Dié een vang mense onkant. Die eerste ding wat baie mense doen, is om die alarm af te skakel. Dit maak ‘n vreeslike lawaai en almal is in elk geval al wakker.
Maar daardie sein is ons beste inligting. Dit wys vir die beheerkamer watter sone geaktiveer is, en of daar ‘n tweede een volg. ‘n Alarm wat van sone drie na sone een beweeg, vertel ‘n storie. ‘n Alarm wat afgeskakel is, vertel niks.
Los hom net so. Ons hanteer die res.

Binne ‘n minuut gaan ‘n vreemde nommer jou bel. Dit is die beheerkamer. Antwoord dit, al is dit twee-uur die nag, al is jy amper seker dis vals.
En as jy nie antwoord nie, sê dit ook vir ons iets. Ons beamptes ry in elk geval uit.

Wanneer die reaksiebeampte opdaag, is dit sy werk om die erf en die huis te deursoek. Hy doen dit elke nag. Hy weet waar om te kyk en hoe om dit veilig te doen. Bly binne totdat hy sê alles is veilig.

Vra jou gesin een vraag om die etenstafel: as die alarm vannag afgaan, wat maak jy? As almal dieselfde antwoord gee, is julle beter voorbereid as die meeste gesinne in die land. As nie, weet jy nou waar om te begin.
